Thursday, August 7, 2008

Michiel's testament 1768

Vertaling van testament van Michiel Muller van Meerkerk in die Land van Keule en Adriana van Rooijen van Cabo de Goede Hoop, 1768.
____________________________________________________________________
Kopie
In God se naam amen.
Laat dit aan ieder wat dit mag aangaan bekend wees op grond van hierdie openbare dokument, dat vandag die dertigste dag van Juniemaand in die jaar van die geboorte en menswording van ons Heer en Saligmaker Jesus Christus, een duisend sewe honderd agt en sestig, saans om seweuur voor my Johannes Blanckenberg Sekretaris van die Kolonie van Swellendam, in aanwesigheid van die hieronder genoemde getuies, in eie persoon verskyn het, die Heemraad van die hierbo gemelde Kolonie Meneer Michiel Muller van Meerkerk in die land van Keule en Adriana van Rooijen van Cabo de Goede Hoop, egtelieden, wat aan my sekretaris en die getuies bekend is, terwyl die Testateur siek in sy bed lê en die Testatrise gesond van liggaam, gesond van lyf en ledemate is, en terwyl beide volkome by hulle verstand is, soos wat tydens die opstel van hierdie akte geblyk het.
Hulle het vir my te kenne gegee dat hulle op grond van die broosheid van die menslike lewe, asook die onsekere tyd en uur van die sterwe, ‘n besluit geneem het oor die goedere wat hulle as gevolg van die Here se seën verkry het en dat hulle sodanig daaroor beskik soos wat hierna vermeld sal word. Hulle doen dit uit vrye wil, sonder daartoe deur iemand gedwing te wees nie.
Nadat hulle hul Siel en Liggaam op ‘n Christelike wyse in God se beskerming gestel het, verklaar die Testateurs om al die Testamente en Kodisille, wat hulle voor hierdie datum miskien opgestel het, heeltemal te herroep, omdat hulle nie wil dat hierdie dokumente enige regsgeldigheid of betekenis sal besit nie.
Hulle beskik soos volg oor hulle besittings.
Die Testateurs bemaak hulle plaas, wat Vetrivier aan de Seekoegat genoem word, aan hulle seun die burgerkornet Meneer Hillegert Muller, asook die wynvate en brandewynketel vir ‘n bedrag van drieduisend gulden volgens Indiese koers, na die oorlyde van die Testateurs.
Verder, wat betref die keuse van Erfgename, verklaar die Testateurs dat hulle mekaar wedersyds, dit wil sê oor en weer, die langslewende vir die een wat eerste sterf, benoem tot sy of haar enigste universele Erfgenaam of Ergename op grond van ‘n konjugale Liefde en geneentheid.
En dat al die goedere wat die een wat eerste sterf nalaat, sowel roerende as onroerende, aandele en skuldvordeinge, Erfenisse en nalatenskappe, sonder een uitsondering deur die langslewende as onbelaste en eie goed besit kan word, sonder dat iemand daarteen beswaar kan maak, onder voorwaarde dat hy of sy verplig bly
die kind of kinders wat uit die loop van die huwelik moontlik verwek sal word eerlik en Christelik op te voed en te onderhou tot na hul mondingwording trou en volwasse is.
Dan sal aan elk van hulle as ‘n klein genoegdoening die bedrag van twee honderd Rijksdaalders uitbetaal moet word.
Omdat die Testateurs mekaar ook aanstel as Eksekuteur of Eksekutrise van hierdie Testament van hulle, asook as voog of voogdes van die kinders wat agterlaat, so wens hulle dit bowendien dat niemand hom met hul boedel of kinders sal bemoei nie.
Hulle verbied in die opsig uitdruklik die inmenging van alle magistraatspersone en beamptes, (en wel uitdruklik die Here Weesmeester aan die Cabo de Goede Hoop), wat hulle op grond van hulle funksie met hul boedel of kinders sou kon of wil inmeng.
Hierdie agbare persone word egter wel beleefd bedank vir enige ander moeite wat hulle wil onderneem.
In geval van hertrouw sal die langslewende verplig wees om behoorlik verslag te lewer aan die edle here Weesmeesters aan hierdie genoemde Cabo oor die hier bedoelde kinders.
Die Testateurs stel hul seun die burgerkornet Meneer Hillegert Muller en sy skoonseun Stephanus Ferraira aan as toesiende de voogde.
Van alles wat hiervoor genoem is, verklaar die Testateurs dat dit hul laaste en uiterste wil is, met die verlange dat dit regskrag en regsgeldigheid sal besit as Testament, Kodisil of as ‘n ander tipe document wat op die beste wyse regsgeldigheid sal kan besit, ook indien enkele noodsaaklike plegtighede agterweë gebly het, wat hiermee as opgeneem geag word, in hierdie opsig word die regtersa gesmeek tot uiterste toegeeflikheid.
Verder is deur die Testateurs aan my, Sekretaris, betuig dat hulle geen tweeduisend Guldens besit nie.
Aldus getuig op die woonplaas van die Testateurs op Jaar, Maand, dag en uur soos hierbo vermeld, in de teenwoordigheid van die Heemraad Meneer Danie du Plessies en die burger Johannes Gous, wat versoek is as bona fide getuies op te tree.
Hulle en die Testateurs en ek, Sekretaris, het die minuut mede-onderteken / soos hieronder / soos wat ek getuig / was onderteken
J Blanckenberg Sekretaris
Vertoon aan die weeskamer aan die Cabo de Goede Hoop 8.7Anno 1768
Stem ooreen
J Blanckenberg
Sekretaris

No comments: